
In Beaufort-Wes is die dam kurkdroog.
TUINROETE NUUS – Wat reënval betref is George in 2010 slegter daaraan toe as in 2009, maar te danke aan die Eden- en George-munisipaliteite se proaktiewe optrede, is die watersituasie in die stad veel meer rooskleurig as verlede jaar.
Die rioolsuiweringsaanleg verskaf daagliks 10Ml water en die damvlak staan op ‘n gesonde 50%.
George word reeds vir vyf maande as ‘n groen dorp geklassifiseer wat beteken dat die Tuinroetedam vir ses maande plus water kan verskaf al sou dit nie ‘n druppel reën nie.
En dis ‘n goeie ding, want geen noemenswaardige reënbuie word vir die volgende drie maande voorspel nie, tradisioneel ons natste tyd.
Daar sal egter na verwagting eersdaags ‘n 10% verslapping in plaaslike waterbeperkings wees en mense sal weer hulle tuine met gieters kan natmaak.
Hoewel die situasie in George onder beheer is, lyk die watersekerheid vir die res van die Eden-streek beroerd.
Ten spyte van die goeie reën in Junie en Julie het die vloei van al die riviere in die streek drasties gedaal. As gevolg van die droogte is afloop ook minder, omdat die droë grond water vinnig opslurp.
In Mosselbaai word daar kliphard gespook om die ontsoutingsaanleg teen Februarie te voltooi en in Oudtshoorn is streng waterbeperkings en ‘n 50% tariefverhoging aangekondig.
In Beaufort-Wes is die dam kurkdroog en in Hessequa is die boorgatwater brak.
Die Le Grangedam in Kannaland se damwal is onstabiel en kan sodoende nooit genoeg opgaar nie.
Eden-rampbestuurder Gerhard Otto het verlede Vrydag ’n dringende vergadering met al die rolspelers in Ladismith bygewoon om oplossings vir die probleem te soek.
Otto sê die dorp is ekonomies erg afhanklik van die suiwelreus Parmalat, wat sy aanleg juis in die dorp gevestig het omdat hy verseker van water sou wees. Verstommend genoeg gebruik die mense steeds leiwater.
Volgens Otto laat die departement van waterwese tans vir Mosselbaai, George, Knysna, Bitou, Hessequa en Beaufort-Wes toe om slegs 60% van hul gerigistreerde water te gebruik.
“Hierdie beperkings gaan nou ook na Oudtshoorn en Kannaland uitgebrei word.
“In Mosselbaai word water van die Hartbeeskuildam vir verbruik gepomp, maar weens die klein uitlaat is die hoeveelheid maar beperk.”
Otto sê anders as Knysna en Mosselbaai kan Oudtshoorn en die ander binnelandse dorpe nie staatmaak op ontsoutingsaanlegte nie en sal daar baie kretief gedink moet word oor oplossings.
“Die boere in die Suid-Kaap kry baie swaar, maar die boere in die Wolwedansdam se opvangsgebied gee hulle volle samewerking. Sommige boere het selfs hulle eie meters ingesit het om te bewys hulle onttrek nie meer water as wat hulle mag nie.”
R50 miljoen is deur die rampfonds aangevra om boere in die Suid-Kaap van veevoer te voorsien en Otto is hoopvol dat die bedrag goedgekeur sal word.
Volgens gerugte is daar ook vir Mosselbaai ‘n taamlike groot rampfonds-meevallertjie op pad en as daar gekyk word na die weerpatrone van 2006 en 2007 wat nou weer kop uitsteek, is ‘n vloedjie of twee dalk ook in die lug.
Artikel: Ilse Schoonraad
